2014-1-13
Van Staden vervang Bezuidenhout
Justin van Staden in aksie verlede jaar vir die SWD Arende. Hy is nou 'n Puma - Foto: Gallo Images

Die Pumas het hul losskakel-diepte na die vertrek van Carl Bezuidenhout met die oud Arend en Olifant Justin van Staden aangevul. Van Staden, wie ook Varsitybekerrugby vir Tukkies gespeel het, begin Maandag in Nelspruit.

Die veelsydige Van Staden, wie ewe tuis op heelagter en losskakel is, sou vanjaar Varsitybekerrugby vir die Madibaz speel en dan weer vir die Arende in die Eersteliga-kompetisie deelneem.

Die voormalige Merensky-leerder en die oud Klofie JC Roos is die Pumas se twee losskakels in die Vodacomkompetisie.

Coenie van Wyk, wie ook ‘n opsie op tien is, oefen tans by die Leeus en sal waarskynlik in hul Superrugby-groep opgeneem word.

Van Staden het verlede jaar 139 punte in die Eersteliga aangeteken, die vierde meeste naas Bezuidenhout, Adriaan Engelbrecht en Scott van Breda.

Die Pumas speel eers op 1 Februarie wanneer hulle in Parys teen die Cheetahs se Superspan te staan kom en dan op 22 Februarie in Johannesburg teen die Leeus se Vodacomspan.

Die wedstryd is ‘n voorwedstryd vir die Leeus se eerste tuiswedstryd in Superrugby teen die Stormers.