2013-10-16
Pumas teken 'n King
Marcello Sampson verruil die Kings vir die Pumas

Die Pumas het nog ‘n hou na die Kings ingekry met die kontraktering van hul vleuel Marcello Sampson wie hom eersdaags in Nelspruit aanmeld. Sampson het aanvanklik vir die Ikeys in die Varsitybeker naamgemaak voordat hy in die Ooskaap gaan speel het.

Nog ‘n King wat die pad vat is die flank Thabo Mamojele wie op pad Leeus toe is nadat hy vanjaar bitter min kans gekry het en heelwat uit posisie moes speel.

Sampson se taak om die span in Nelspruit te haal is egter uitgeknip waar hy met sterre soos Rosko Speckman, JW Bell, Trompie Pretorius en Wilhelm Loock sal moet meeding.

Die Pumas het tans ook ander vleuels soos Deon Scholtz, Danwell Demas en Ashwin Scott, wie noudiedag nog ‘n driekuns teen die Valke aangeteken het. Die week tevore het Danwell Demas twee keer teen die Boland gedruk.

Speckman en Bell is twee van die sterre in vanjaar se span en is albei ook kandidate om as die Pumas se Speler van die Jaar gekroon te word.

Die Griekwas se vleuel Richard Lawson en agtsteman Burger Schoeman onderhandel ook met die Pumas vir moontlike kontrakte aanstaande jaar.