2013-11-13
Pumas en Luiperds kry Super by
Rudi Mathee is genooi om saam met die Leeus te oefen

Die Leeus sal hul franchise-ooreenkoms met die Pumas en Luiperds aanstaande jaar moet nakom wat beteken dat van hul Superwedstryde in Nelspruit en Potchefstroom of Rustenburg gespeel kan word en dat spelers van die twee franchisees aanstaande week by die Supergroep inval.

Daar is ook ‘n sterk moontlikheid dat van die Pumas se bestuurspan ‘n hand sal bysit en die Leeus se Supertruie moet ook verteenwoordigend van die Pumas en Luiperds wees.

Altesaam agt Pumas val Maandag by die Leeus in, tussen hulle albei die loskoppe Vincent Koch en Corné Fourie, die slot Rudi Mathee, die losvoorspeler Renaldo Bothma, die senters Stefan Watermeyer en Wilmaure Louw en die heelagters/losskakels Coenie van Wyk en Carl Bezuidenhout.

Stonehouse kan ‘n aanwins vir die Leeus se afrigtingspan wees. Sy suksesse die afgelope paar jaar spreek vanself: Drie keer die Eersteligakampioen, afrigter van die SA Barbarians en van die SA Presidentspan en ‘n oorwinning in die promosiestryd teen Griekwas.

Daarby het die Pumas die Leeus en die Griekwas albei twee keer geklop in die twee jaar wat hulle in die Premierliga gespeel het.

Die Pumas het die Bulldogs-flank Brian Shabangu ook intussen gekontrakteer nadat die Grens se kaartehuis inmekaargetuimel het.

Daar word ook tans met die WP-losskakel Gary van Aswegen – wie op Standerton op skool was – onderhandel om terug te keer Pumas toe.