2013-9-15
NB! Leeus teken MB en Franco
MB Lusaseni in aksie teen die Pumas - Foto: Gallo Images

Die Leeus het hul dik gevreet aan hul Springbokslot Franco van der Merwe wat besluit het om sy kontrak met hulle te verleng en was toe so vraatsig dat hulle hul franchise vennote, die Luiperds, se beste slot MB Lusaseni, ook gekontrakteer het.

Lusaseni was ook op die Kings se inkopielys maar die Luiperds het hul sakke diep geskud om sy dienste te probeer hou, veral met die belanglike kwota-reëlings wat aanstaande jaar af geld.

Van der Merwe se kop het ook Sharks toe gestaan maar hy en die senter Lionel Mapoe het besluit om lojaal aan die Leeus te bly nadat die franchise vir twee jaar tot Superrugby terugkeer.

Die Leeus se slotkas begin weer vol raak nadat ‘n horde juniors verlede jaar die pad gevat het en Hendrik Roodt besluit het om oorsee te gaan speel.

Hugo Kloppers, Franco Mostert, Ruan Venter, JJ Breet, Stephan Greeff en Gavin Annandale was vanjaar ook onder kontrak by die Leeus maar van hulle gaan afgelaai word.

Die Leeus stoei nog met Elton Jantjies se agent om hom ook vir aanstaande jaar vas te maak.