2013-10-2
Kings reg om gepluk te word
George Whitehead is die Kings se groot angel - Foto: Gallo Images

Die Kings het, soos die Luiperds, ‘n onveranderde beginspan aangewys vir hul Eersteliga-helfeindstryd Vrydagaand in Port Elizabeth maar dit is nie ‘n span wat die besoekers se broeke behoort te laat bewe nie.

Hierdie is gewis nie ‘n Superspan nie en die skerpste pyle in die Kings se koker is die witkop-losskakel George Whitehead en die res van sy driekwarte.

Whitehead het die vermoë om ‘n wedstryd op dié vlak op sy eie te wen en veral Ronnie Cooke, Michael Killian en Scott van Breda is wedstrydwenners, soos wat hulle in Potchefstroom bewys het.

Steven Sykes is die een uitskieter voor maar dit is hier waar die Luiperds die wedstryd kan wen, beginnende met hul skrumwerk, wat teen die Arende ook die grondslag vir hul sewe drieë gelê het.

Die flank Stefan Willemse is op die bank ingesluit maar moet eers ‘n fiksheidstoets slaag.

Hy was in hul vorige wedstryd die een King wat die wedstryd se gang verander het toe hy speelkans gekry het.

Albé de Swardt is as haker behou met Hannes Franklin op die krukkerlys nadat hy sy oogkas gekraak het en Boetie Britz uit weens harsingskudding.

Kings vs. Luiperds: Scott van Breda; Michael Killian, Ronnie Cooke, Tiger Mangweni, Brian Skosana; George Whitehead, Dwayne Kelly; Tim Agaba, Mpho Mbioyzo, Devin Oosthuizen, Steven Sykes, Darron Nel ©, KP du Plessis, Albe de Swardt, Luzo Gcoboka. Reserwes: Bobby Dyer, Ross Geldenhuys, Wayne van Heerden, Stefan Willemse, Kayle van Zyl, Ntabeni Dukisa, Wayne Stevens.