2013-8-28
Kings op Luiperdjag
BG Uys word aanstaande jaar 'n King

Die Luiperds se voorlag-loskop BG Uys sak Vrydagmiddag op Olënpark die laaste keer vir die Noordwesters teen die Kings voordat hy aanstaande seisoen sy rugby uit Port Elizabeth speel.

Uys het al sy eersterangse rugby tot dusver uit Potchefstroom gespeel, meer as 50 wedstryde vir die Luiperds, twee vir die SA Studente en een vir die SA Barbarians.

In Port Elizabeth sal hy egter weer met sy aartsvyand Schalk Ferreiera moet meeding. Ferreira was in Paarl Gim se aartsvyand Paul Roos op skool.

Die Kings het egter hulle oog ook op die Luiperds se slot MB Lusaseni in plaas daarvan om hul eie ontwikkeling te doen. Lusaseni sal dus graag ook ‘n punt teen die OP se rugbybase wil wys.

Die Luiperds is egter vasberade om Lusaseni in hul kraal te hou veral met die belaglike kwotasyfers wat Saru aanstaande jaar aan die Unies voorskryf.

Die skrumskakel Johann Laker is ook Vrydag terug in die Luiperdspan nadat hy hom op die nippertjie na aan die span teen die Valke moes onttrek. Tiaan Dorfling het egter ‘n voortreflike vertoning in Laker se afwesigheid gelewer.

Die vaskopstut John-Roy Jenkinson is ook weer beskikbaar nadat hy aan die Cheetahs geleen is.

*Die oud Luiperd-agtsteman Cornel du Preez is terug in die Kings se span vir die groot stryd en Darron Nell keer terug om die span aan te voer.

Kings vs. Luiperds: Scott van Breda; Michael Killian, Wayne Stevens, Tiger Mangweni, Marcello Sampson; George Whitehead, Nicolas Vergallo; Cornel du Preez, Tim Agaba, Devin Oosthuizen, Samora Fihlani, Darron Nell ©, Charl du Plessis, Hannes Franklin, Brenden Olivier. Reserwes: Boetie Britz, Liza Gqoboka, Thabo Mamojele, Stefan Willemse, Dwayne Kelly, Ntabeni Dukisa, Brian Skosana.