2013-8-27
Meer kleur vir Griekwas
Dustin Jinka in aksie vir die Blou Bulle

Met die aankondiging van die nuwe kwotastelsel in die Vodacomkompetisie het die Griekwas nog drie nuwe spelers van kleur vir aanstaande seisoen gekontrakteer. Die skrumskakels Dustin Jinka en Ntando Kebe en die slot Cornel Hess gee meer kleur aan Griekwas se groep.

Met Jinka, Kebe en die Bulle se Ruan Snyman het die Griekwas drie nuwe skrumskakels vir aanstaande seisoen. Met Saru se aankondiging oor die kwotastelsel in die Vodacombeker het swart en gekleurde spelers se aanvraag oornag die hoogte ingeskiet.

Die 27-jarige Jinka was tot 2011 by die Blou Bulle gekontrakteer en hy het hom in Januarie 2012 op 'n proefbasis by die Kings aangesluit. Hy is nie 'n kontrak aangebied nie en sedertdien het hy sy gewig by die klub Hamiltons ingegooi waar hy 'n groot bydrae gelewer het.

Twee voorrye, Stephan Pretorius van Tukkies en Nicolaas van Dyk van die Sharks, is ook nadergetrek om vir die verlies van die Springbok Lourens Adriaanse te vergoed.

Die res van die aanwinste is die Pumas-slot Boela Serfontein en die Kings-senter Wayne­ Stevens.

Die webtuiste het reeds berig dat twee nuwe heelagters, die Luiperds se Danie Dames en die Boland se Jacquin Jansen asook die senter Jonathan Francke ook aanstaande jaar vir die Kimberliete beskikbaar is.

Jansen en Francke is ook spelers van kleur.