2013-10-22
Griekwas se vaskop-fabriek
Lourens Adriaanse is slaggerreed vir die stryd in Nelspruit

Die Griekwas se Springbok-vaskop Lourens Adriaanse het wonderbaarlik herstel om Vrydag in Nelspruit in die tweede promosie/relegasiestryd teen die Pumas te sak met Nick Schonert wie boonop op die bank ingesluit is.

Adriaanse het ‘n kontrak met die Sharks gesluit en Schonert by die Cheetahs en die Griekwas se skrum kan nog sterker wees met ‘n erkende vaskop op die bank.

Die ander belangrike veranderinge in die Griekwas se span is die insluiting van die agtsteman Carel Greeff en die besluit om Marnus Schoeman, wie meer ‘n las as ‘n bate is, af te skuif bank toe.

Die witkop Schoeman, wie ‘n rits strafskoppe im Kemberley afgestaan het, se plek in die sestrui gaan aan RJ Liebenberg en Burger Schoeman skuif van agt na sewe.

Die slot Jaco Nepgen is egter nie betyds fiks nie en sy plek word deur Patrick O’Brien ingeneem maar die Griekwas het geen erkende slot op die bank nie.

Die enigste verandering aan die agterlyn is op skumskakel waar Jacques Coetzee in Marnus Hugo se plek begin.

Dit is die laaste keer dat die Bokke Willie le Roux en Adriaanse, die heelagter Gouws Prinsloo, die skrumskakels Jacques Coetzee en Marnus Hugo, Schonert en die senter JP Nel in die Griekwatrui speel.

Jean Stemmet het ‘n pos by ‘n skool in Kimberley aanvaar en hoewel hy nie gekontrakteer is nie, sal hy waarskynlik beskikbaar bly.

Griekwas vs. Pumas: Gouws Prinsloo; Willie le Roux, Jean Stemmet, Howard Mnisi, Rocco Jansen; Francois Brummer, Jacques Coetzee; Carel Greeff, Burger Schoeman, RJ Liebenberg, Patrick O’Brien, Ligtoring Landman, Lourens Adriaanse, Ryno Barnes ©, Steph Roberts. Reserwes: Matthew Dobson, Janro van Niekerk, Nick Schonert, Marnus Schoeman, Marnus Hugo, JP Nel, Nico Scheepers

*Drie jong vaskoppe, een van die Universiteit van Johannesburg, een van Tukkies en een uit die Sharks-akademie sluit hulle vir aanstaande seisoen by die Griekwas aan.

Die UJ se Kop van der Westhuizen, Tukkies se Stephanus Pretorius en die Sharks se Maks van Dyk is die drie jongelinge wat die Griekwas se skrum aanstaande seisoen moet anker.

Nicolaas “Maks” van Dyk is ‘n lid van Boishaai in die Paarl se skrumfabriek en was verlede jaar nog lid van die SA Onder 20-span wat die Wêreldbeker gewen het.

Pretorius was vroeër die seisoen nog lid van die Tukkies se span wat die Varsitybeker gewen het en Van der Westhuizen het nou die dag ‘n indrukwekkende buiging vir die Griekwas gemaak.