2012-11-4
 Roskoe Specman (heel links) en sy Sharks-spanmaats by die Sewes Die Sharks en College Rovers vleuel, Roskoe Specman, wie die afgelope naweek op Loftus as die Interprovinsiale Sewes se Speler van die Toernooi aangewys is, is aanstaande jaar ‘n Puma.
Specman was lid van die seëvierende Sharks-span wat die Kings 29-14 in die eindstryd van die Sewes-toernooi geklop het. Hy was ook lid van Robert du Preez se College Rovers-span wat die Nasionale Klubkampioenskappe in Rustenburg gewen het.
Specman is die derde speler wat by die Klubkampioenskappe vir hom ‘n kontrak losgespeel het naas sy klubmaat Kobus de Kock en die Polisiestut Jacques van Rooyen, wie hulle albei by die Leeus aansluit.
Specman het vanjaar een keer vir Sharks in die Curriebeker teen die WP begin en was ook een keer op die bank. Hy is die afgelope twee seisoene ‘n gereelde speler in die Sharks XV-tal.
Specman, Wilhelm Loock, Deon Scholtz, Danwell Demas en Ashwin Scott is die gekontrakteerde vleuels vir aanstaande jaar. |