2012-10-3
Watermeyer word 'n Puma
Stefan Watermeyer word 'n Puma - Foto: Gallo Images

Die oud Blou Bul-senter, Stefan Watermeyer, wie vanjaar vir ‘n heen-en-weertjie vir die Griekwas uitgedraf het, is aanstaande jaar ‘n volwaardige Puma en sal sy rugby uit Nelspruit speel.

Watermeyer het die afgelope paar maande ook vir die Ospreys in Wallis gespeel. In hom, Trompie Pretorius en die huidige kaptein JW Jonker het die Pumas drie uitstekende senters vir aanstaande seisoen.

Die Pumas het ook die dienste van die Valke-heelagter JW Bell en die Griekwa-vaskopstut Ivann Espag bekom. Bell veral is ‘n aanwins en was die seisoen die een Valk wat uitgestaan het.

Die Puma-skrumskakel Shaun Venter gaan blykbaar Super-rugby vir die Kings speel en Torsten van Jaarsveld sal vir die duur van die toernooi vir die Cheetahs uitdraf.

Watermeyer het ‘n indrukwekkende rugby-stamboom. Hy het in in 2005 en 2006 vir die SA Skolespan uitgedraf, in 2007 vir die SA Onder 19-span en in 2008 het hy aan die Junior Wêreldbeker deelgeneem.

Hy het die Bulle ook sowat 55 keer verteenwoordig en een wedstryd Super-rugby vir die Bulls gespeel.