2012-10-10
Groot haker-skuiwe by Pumas
Frankie Herne

Die Kings se gevryery na groot name het die haker Frankie Herne genoop om ‘n kontrak vir aanstaande jaar met die Pumas te sluit. Die Tukkie Jacques Momberg het die Pumas se haker-spens ook aangevul.

Herne en Momberg vervang Torsten van Jaarsveld wie SuperRugby by die Cheetahs gaan speel, Pellow van der Westhuizen wie besluit het om in Frankryk rugby te speel en Gert van Schalkwyk.

Van der Westhuizen sluit hom binnekort as ‘n mediese plaasvervanger by Collomiers in Frankryk aan en Van Schalkwyk trek nie saam met die Pumas Nelspruit toe nie.

Die 22-jarige Herne is ‘n Vrystater wat die afgelope twee jaar in die Baai rugby speel nadat hy van Cravenweek af vir al die Vrystaat se junior spanne gespeel het.

Die Springbok Bandise Maku is blykbaar op pad Kings toe en dit is die grootste rede vir Herne se besluit om Nelspruit toe te trek.

Die Kings se huidige nommer-1-haker Hannes Franklin se naam was ook in die hoed vir die Colomiers-kontrak.

Van Jaarsveld sal Saterdag in Port Elizabeth regstreeks met Franklin te staan kom en Herne is op die Kings se bank teen die Pumas.