2010-3-9
Williamson in 100e van bank af
Gavin Williamson teen Boland

Die Luiperdhaker Gavin Williamson gaan sy 100e eersterangse wedstryd Vrydagaand in Rustenburg van die bank af speel wanneer die Platinum Luiperds en die Valke in die Vodacomreeks kragte meet.

Williamson het verlede naweek in sy 99e wedstryd twee drieë gedruk. Wanneer hy op die veld verskyn vir sy 100e sal dit ook sy 47e vir die Luiperds wees.

Die Luiperds is Vrydagaand minus hul kaptein Wilhelm Koch, wat ‘n stamp op sy een bo-been het asook die beseerde slot Ligtoring Landman.

Die agtsteman Riaan Swanepoel is die nuwe kaptein en RW Kember kry kans in die nommer-sewe-trui met die oud-Griffonslot Gys Briedenhann in die beginspan teen die Valke.

Pellow van der Westhuizen begin op haker en Nardus Lombard vervang Divan Kotze op loskop.

Agter skuif Russell Jeacocks in op heelagter en speel Jan van Zyl linkervleuel in Dumisani Matyeshana se plek.

Clayton Durand, die Luiperds se nommer-een-losskakel, is ook terug in die tuig ten koste van Marcel du Toit, wat uit die groep weggelaat is.

Groot Japie Nel is een van sewe veranderinge en ‘n posisionele skuif ook terug op binnesenter in Basil de Doncker se plek.

Daar is ook insiggewende veranderinge op die bank. Philip Lemmer, wat van sy besering herstel is, begin as ‘n reserwe en die jong Danie Crous kry sy eerste kans in ‘n Luiperdtrui.

Luiperds vs. Valke: Russell Jeacocks; Deon Scholtz, Jovan Bowles, Japie Nel, Deon Scholtz; Clayton Durandt, Michael Bondesio; Riaan Swanepoel ©, RW Kember, Christo van Niekerk, Anthonie Gronum, Gys Briedenhann, Os van der Walt, Pellow van der Westhuizen, Nardus Lombard. Reserwes: Gavin Williamson, Philip Lemmer, Bradley Mockford, Danie Crous, Jean Tiedt, Cecil Dumont, Dumisani Matyeshana.

Afskop is om 18:30 in die Royal Bafokeng Sports Palace en kaartjies is by die hekke beskikbaar.