2010-3-8
 Pagina pass teen Madibas Die Universiteit van Johannesburg het Maandagaand in Johannesburg die grootste telling tot nog toe in die Varsitybeker aangeteken en so sy aanslag op die halfeindstryd wawyd oop gehou met sy sege van 97-14 oor die NMMU.
Die UJ se manne het meer as ‘n punt-per-minuut aangeteken met hul 15 drieë en het van die eerste sekond af soos ‘n wegholbrand op loop gesit en nooit opgehou tot die eindfluitjie geblaas het nie. Die vorige hoogste telling was in 2009 toe Shimlas die TUT 78-22 geklop het.
Alle krediet aan die Johannesburgers wat nie een oomblik ophou rugby speel het nie en derhalwe hul kanse vir die halfeind soveel groter gehou het met die groot punteverskil.
Speler van die Wedstryd, Edgar Marutlulle, was briljant en het soos ‘n senter of vleuel rondgehardloop en in die proses drie pragdrieë in net 44 minute gedruk het. Hy is maklik vanjaar die voorste haker in die kompetisie en hoër louere is nou waarskynlik net ‘n oproep ver.
Om in so ‘n sege enige uitsonderings te maak is onmoontlik maar alles het voor begin waar die UJ se pak voorspelers die grondslag gelê het en die losvoorspelers Hennie Killian en Wiehan Roos behoorlik baljaar het. Agter so ‘n pak het Haas Snyman ook sy beste wedstryd nog vir die UJ gehad en dit het die agterspelers in staat gestel om amper beurte te maak om punte aan te teken.
André Smith het spoed en visie gewys toe hy opgestuur is en saam met Earl Lewis het hulle die Madibas dronk gehardloop.
Die NMMU het selde die bal gehad en moes omtrent met 15% besit probeer rugby speel. Die UJ se verdediging is derhalwe nooit getoets nie want hulle het feitlik nooit verdedig nie.
Die uitstaanspeler in die besoekers se span was sonder twyfel Fabian Juries se jonger boetie Christopher wat altwee sy span se drieë aangevoer het met spoed en ‘n fyn aanvoeling. Maar meer as dit kan mens ongelukkig nie van die Madibas sê nie.
Lig jou hoed vir Hugo van As en die manne in Oranje want hulle verdien dit!
Punte:
UJ: Drieë: Edgar Marutlulle (3), Aubrey McDonald (2), André Smith (2), Lolo Waqa (2), Ryno Luus, Hennie Killian, Wiehan Roos, Earl Lewis, Brett Claassen. Doelskoppe: Luus (4), Smith (7), Lewis. Strafdoel: Luus.
NMMU: Drieë: Mlindazwe Nqoro, Vuyolwethu Mazaka. Doelskoppe: Willem Laubscher (2). |