2010-3-7
 Jaco Taute NW Die Universiteit van Johannesburg het die Suid-Afrikaanse Onder 20-speler Jaco Taute op sy bank ingesluit vir sy groot stryd Maandagaand in Johannesburg teen die Madibas.
Taute, wat ewe tuis op heelagter, vleuel, senter en losskakel is, sal in sy eerste senior wedstryd vir die Universiteit speel nadat hy verlede jaar al vir die Leeus Curriebekerrugby gespeel terwyl hy op die skoolbanke was.
Die Johannesburgers se skakelpaar en middelveld was vanjaar hul Achieleshiel en Taute kan in enige posisie van tien tot 15 ‘n impak maak.
Twee veranderinge is aan die beginspan aangebring. Aubrey McDonald vervang die talentvolle Earl Lewis en Corné Cordier vervang Martyn Lombard op slot.
Die UJ sal graag ‘n groot telling teen die Madibas wil opstel om hul punte-vir-, en punte-teen-verskil op te stoot.
Die losskakel Ryno Luus kry ook weer ‘n kans in die beginspan met André Smith op die bank. Indien dinge goed gaan kan Smith egter minstens ‘n helfte kry om die NMMU te treiter.
Taute vervang die skrumskakel Danny Botha op die bank en laasgenoemde kan ongelukkig voel dat hy sy plek in die 23 verloor. Die kaptein Pagina de Klerk sal die reserwe-skrumskakel wees.
UJ vs. NMMU: Aubrey McDonald; Bernado Botha, Pagina de Klerk ©, Luhan Steenkamp, Lola Waqa; Ryno Luus, Haas Snyman; Hennie Kilian, Wiehan Roos, JP Janse van Rensburg, Marnes van Huyssteen, Corné Cordier, Clint van Niekerk, Edgar Marutlulle, KP du Plessis. Reserwes: Brett Claassen, JP Olivier, Martyn Lombard, Jaco Claasen, Quinten Minnaar, Jaco Taute, André Smith, Earl Lewis. |