2010-2-5
Spencer die Groot Kat
Carlos Spencer by Leeuwelpie

Noem hom Koning Carlos, of noem hom die Jakkals, of noem hom die Leeus se enigste hoop op ‘n bietjie Super 14-glorie vanjaar, want Vrydagaand was dit net die All Black-towernaar wat die Leeus van hul kleinboeties, die Pumas en Luiperds onderskei het.

Spencer was die hoofargitek wat die Leeus in staat gestel het om die Pumas op ‘n nat Pumastadion 24-17 te klop, selfs al is die wenpunte aangeteken met Burton Francis in die losskakelkanaal.

En in die hoof-voorwedstryd was dit net twee Biscuit van Deventer-drieë wat die Leeus in staat gestel het om die Luiperds in stortreën 38-30 te klop in ‘n wedstryd wat vir lank deur die POtchefstromers oorheers is.

Dick Muir het raakgevat met die ouman Spencer. Sy taktiese skopwerk met ‘n seepglad bal was skitterend en hy skop nie net om te skop nie. Soos Dok gesê het, hy gee die bal met die voet aan.

Gelykop sou ‘n beter refleksie van die hoofwedstryd gewees het. Charles Emslie het die wendrie gedruk met net ses Puma-voorspelers op die veld en met die Leeus wat ‘n vlaag aanvalle op die Puma-doellyn geloods het.

Hoe meer hulle die bal gehad het, hoe meer is hul gebreke blootgelê.

Die Leeus leef in ‘n droomwêreld indien hulle dink dat nie een van die Pumas of Luipies goed genoeg is vir Super 14-rugby nie.

Hoe gouer hulle ook na Elgar Watts, Ronnie Uys, Jaco Bouwer, Marius Coetzer (aan Puma-kant), Jacques Coetzee en Ligtoring Landman, Palm Koch en Clayton Durand kyk, hoe beter.

Uys se vaardighede is net deur Spencer in die skadu gestel en boonop het hy en die Puma-agttal die Leeus in ‘n stadium seergemaak in die skrums.

En Coetzer het die sout in die wonde in die lynstane ingevryf en Bouwer was ‘n derduiwel by die afbreekpunte terwyl Doppies le Roux met die bal in hand netsowel in die Leeutrui tuisgehoort het.

En agter het Watts na ‘n opkomende Spencer gelyk.

JP Joubert het waarskynlik sy neus voor Chris Jonck ingekry, maar Coetzee was waarskynlik beter as albei. Sy werkverrigting was ongelooflik.

Dan het Earl Rose en Tonderai Chavhanga gewys dat die Leeus nie sonder hulle kan speel nie, nie as hulle in Spencer se spelpatroon inkoop nie.

Punte:

Leeus: Drieë: Wandile Mjekevu, Jonothan Mokuena, Deon van Rensburg, Charles Emslie. Doelskoppe: Chris Jonck, Earl Rose.

Pumas: Drieë: Doppies le Roux, Elgar Watts. Doelskoppe: Braam Pretorius (2). Strafdoel: Pretorius.

*Voordat die stortreën uitgesak het die Luiperds al die speelwerk gedoen, maar die Leeus al die punte aangeteken en na twee drieë was hulle gerieflik 17-3 voor.

Durand was egter hoe natter hoe kwater en sy taktiese spel het die Luiperds laat naderkruip en in ‘n stadium laat gelyktrek.

Kort na rustyd was die Leeus weer gerieflik 31-17 voor voordat die Luiperds tot 31-30 opgekruip het. In albei gevalle het Van Deventer se drieë sy span se bas gered.

Landman se vaardighede in die vroeë wedstryd was opvallend en hy moes regmerkies by menere Muir en kie gekry het.

Punte:

Leeus: Drieë: Johan van Deventer (2), Alex Kock (2), Henno Mentz, Earl Lewis, Doelskoppe: Herkie Kruger (4).

Luiperds: Drieë: Japie Nel, Deon Scholtz, Jan van Zyl. Doelskoppe: Clayton Durand (2)< Marcel du Toit. Strafdoele: Durand (3).