2010-3-10
 Dewald Potgieter teen die Britse Leeus. - Foto: Backpagepics Die Springbokflank Dewald Potgieter begin Saterdag die eerste keer ‘n wedstryd vir die Bulls wanneer hulle teen die Highlanders op Loftus Versfeld in Pretoria speel.
Potgieter was ‘n plaasvervanger teen die Waratahs twee weke gelede ná ‘n voor-seisoense kniebesering hom buite aksie gestel het vir die eerste twee wedstryde van die Bulls se veldtog.
Hy vervang die strydros Pedrie Wannenburg, wat as plaasvervanger gekies is en in sy 102de wedstryd vir die Bulls sal speel. Die kaptein Victor Matfield lei die span vir die 50ste keer en speel in sy 99ste wedstryd op dié vlak.
Die Bulls se afrigter, Frans Ludeke, het ‘n fikse Pierre Spies gekies as agtsteman, waar hy die lostrio uitmaak saam met Potgieter en Derick Kuün, wat weer die oopkantflank is.
Deon Stegmann is as plaasvervanger, gekies saam met vier ander voorspelers.
Flip van der Merwe, wat afgeskuif het om plek te maak vir Danie Rossouw (agtsteman teen die Waratahs) op slot, is ‘n ander. So ook Rossouw de Klerk, wat in sy eerste Super 14-wedstryd kan speel nadat Bees Roux ‘n besering op die oefenveld opgedoen het.
Heini Adams is heeltemal weggelaat en sal vir die Blou Bulle teen die Leeus speel.
Bulls vs. Highlanders: Zane Kirchner; Gerhard van den Heever, Stephan Dippenaar, Wynand Olivier, Francois Hougaard; Morné Steyn, Fourie du Preez; Pierre Spies, Dewald Potgieter, Derick Kuün, Victor Matfield ©, Danie Rossouw, Werner Kruger, Gary Botha, Gurthrö Steenkamp. Reserwes: Bandise Maku, Rossouw de Klerk, Flip van der Merwe, Deon Stegmann, Jacques-Louis Potgieter, Jaco van der Westhuyzen, Pedrie Wannenburg. |