2010-3-8
 Wilhelm Loock loop Ikey uit die pad uit Die Maties is die enigste onoorwonne span in die Varsitybeker nadat hulle hul aartsvyande, die Ikeys, Maandag op Coetzenburg 23-17 in ‘n riller geklop het.
Daarmee het die tweemalige kampioene ook seker gemaak van minstens ‘n tuis-semi nog voor die ligabepalings afgehandel is.
Wanneer die Maties en Ikeys mekaar vat doen hulle dit met alles en nog wat en die emosies het weer hoog geloop in ‘n stryd waarin min te kies was.
Die verskil tussen die twee spanne was waarskynlik die skopskoen van die Maties se jong generaal André Kemp en die Matie-skrum wat die groter Ikeys laat knor het.
Aan die ander kant het die getroue skopskoen van Matthew Roslee hom vir die een of ander rede in die steek gelaat en hoewel die Ikeys drie drieë teenoor twee gedruk het, kon hulle wéér nie in Stellenbosch wen nie.
Wanneer dit saak gemaak het, het die Maties diep gedelf en elke gevaarlike situasie gered.
Punte:
Maties: Drieë: Andrew Prior, Wilhelm Loock. Doelskoppe: André Kemp (2). Strafdoele: Kemp (3).
Ikeys: Drieë: Marcello Sampson, Mark Esterhuizen, Therlow Pietersen. Doelskop: Matthew Rosslee.
|