2010-2-8
 Earl Lewis Aksie Leeus Die Leeu-heelagter Earl Lewis moet die Universiteit van Johannesburg Maandagaand in Pretoria teen die Tukkies ekstra brul gee. Lewis, een van die uitskieters in verlede jaar se Varsitybeker, is een van net twee veranderinge aan die Johannesburgers se span na hul oorwinning oor TUT.
Die voormalige Bolander het Vrydagaand nog ‘n drie gedruk vir die Leeus se naasbestes teen die Luiperds en vervang Aubrey McDonald, ‘n ou bekende in Pretoria.
Die Leeuslot David Bullbring begin ook, soos Lewis, die eerste keer nadat hy ook die afgelope naweek in ‘n Leeutrui gespeel het. Bullbring vervang Marnes van Huyssteen, wat heel tevrede met sy vertoning teen TUT kon voel.
Hugo van As wou nie veel aan ‘n wenspan torring nie, maar daar is veral baie druk op die skakels en die regtervleuel Trekker van Tonder om hul spelpeil te lig teen die Tukkies.
Veral die klaviermeester André Smith is onder groot druk om sy potensiaal te verwesenlik nadat hy verlede seisoen ook nie die nommer-10-trui sy eie kon maak nie.
Die jong Elton Jantjies is binnekort fiks en indien Smith nie die mas opkom nie, kan hy sy plek afstaan.
Volpunte teen die Tukkies kan die UJ ‘n groot hupstoot gee in die kompetisie en hulle veilig tussen die boonste drie op die log plaas. Hulle sal met Bullbring se insluiting hoop om voor te domineer.
UJ vs. Tukkies: Earl Lewis; Trekker van Tonder, Pagina de Klerk ©, Luhan Steenkamp, Lolo Waqa; André Smith, Danny Botha; Quinten Minnaar, Wendell Wehr, Justin Wheeler, David Bullbring, Martyn Lombard, Wayne Swart, Edgar Marutlulle, KP du Plessis. Reserwes: Brett Claassen, JP Olivier, Jaco Claasen, Marnes van Huyssteen David Bullbring, JP Janse van Rensburg, Jacques Pretorius, Aubrey McDonald. |