2010-2-8
Dabeon mik hoog na vier
Dabeon Draghoender val aan vs TUT

Die Maties se Dabeon Draghoender wil sy vier drieë in die openingswedstryd van vanjaar se Varsitybeker teen NMMU Maandagaand teen TUT probeer herhaal.

Hy het in elk geval vir homself die doelwit gestel om die Varsitybeker se voorste speler te wees vanjaar – “ten minste Agterspeler van die Toernooi maar eintlik Speler van die Toernooi. Ek het groot begin met daardie vier drieë en ons sal maar sien hoe ek daarop voortbou,” lag hy uit Stellenbosch waar hy deesdae ‘n voltydse rugbyspeler is.

Draghoender het pas teruggekeer na agt maande langs die kantlyn weens ‘n ernstige enkelbesering en het toe sommer dié terugkeer met ‘n vierkuns gevier.

“Ek was baie verbaas oor daardie klomp drieë want ek is gewis nog nie op peil nie. Ek het nog baie werk met my defence en spoed wat voorlê. Dit is maar ‘n lang pad terug na so ‘n besering,” gesels hy gemaklik.

Dié spoedvraat het as agtjarige kannetjie in Port Elizabeth die eerste keer aan ‘n rugbybal gevat en later, aan die Harmony Sportakademie in Virginia so uitgeblink dat hy die Griffons twee jaar lank by die Cravenweek verteenwoordig het. Daarna het die WP hom genader en dit is hoe sy paadjie tot in Stellenbosch geloop het.

Hy het as jong speler geglo die pad na ‘n Springboktrui loop via die WP. Dit het nog nie gebeur nie, maar hy is oorgehaal om die Varsitybeker te gebruik om die kenners se oë te vang. “Ek moet hierdie kompetisie gebruik om myself te bemark.

“Ek wil so lank as moontlik ‘n merk maak in Suid-Afrikaanse rugby. Ek gaan nie vroeg in my loopbaan geld oorsee jaag nie. Ek wil my land verteenwoordig: Daardie droom kom al ‘n lang pad saam met my.”

Maties se fiksheidsghoeroes werk hard om hom so gou moontlik weer op standaard te kry. “Ek werk baie hard en het die laaste vier weke 12 kilogram verloor.”

Draghoender glo dat die Varsitybeker waarskynlik baie vinniger is as die Vodacombeker maar dat laasgenoemde waarskynlik bietjie harder is. “Ek dink ‘n ‘kluboutjie’ sal sukkel om sommer in die Vodacom hond haaraf te maak, maar net so kan die spoed van die Varsitybeker nie onderskat word nie. Dit is studenterugby op sy beste!”