2010-3-7
Brussow-seisoen verby
Heinrich Brussow duik 'n Hurricane-speler - Foto: Backpagepix

Die Cheetahs se Springbokflank Heinrich Brussow se seisoen is verby nadat hy sy kruisligamente Saterdag in die doodsnikke teen die Hurricanes geskeur het. Brussow word Maandag reeds geopereer en sal tussen ses en nege maande lank buite aksie wees.

Die Cheetahs het gelukkig ‘n oorvloed goeie losvoorspelers en die Springbok Hendro Scholtz behoort oor twee weke teen die Stormers weer op sy pos te wees.

‘n Ander opsie sal wees om Frans Viljoen ses toe te skuif en selfs om Kabamba Floors speelkans te gee, hoewel die Springbok die ideale impakspeler is.

Brussow is beseer sonder dat iemand aan hom geraak het en hy binnetoe gedraai het om ‘n teenstander te duik.

Die Bokke sal ook ‘n plaasvervanger vir Brussow moet kies en dit kan Schalk Burger weer met Juan Smith in die Groen-en-Goud herenig, maar die Bulle se Deon Stegmann kan ook in die wedloop wees indien daar besluit word om ‘n spesialis balsteler te kies.

Die nuwe toepassing van die reëls neuk met die karakter van die spel en spesiale talente soos die van Brussow en Richie McCaw word geminag.

Juis daarom kan Scholtz of Viljoen met vrug deur die Cheetahs ingespan word.