2010-2-3
Straatkat en Dietlov by 'Poorte
Straatkat teen Bulle.JPG
Straatkat van Zyl, Dietlov Coetzee, Cash van Rooyen, Jesse Geyer – die name lees soos ‘n Who’s Who as mens na die nuwe maar bekende gesigte kyk wat in die aande deur Roodepoort Rugbyklub se hekke ry vir oefening.

Die twee provinsiale spelers Van Zyl (Leeus) en Coetzee (Luiperds) is Wes-Randers in murg en been en is hard aan die oefen Jaco Swart se troepe vir vanjaar se klubreekse. Daarby is Geyer terug by die ‘Poorte na ‘n seisoen by Pirates.

En die ander goeie nuus is dat Roodepoort nie een van hul senior spelers verloor het nie wat beteken dat name soos Gareth Hemingway, Johan Prins, Johan de Waal en kie weer weekliks in die spanlyste sal verskyn.

Die goeie nuus hou net as dit in swart en wit strepe is: die oud-losskakel Ivan ‘Cash’ van Rooyen is nou die klub se kondisioneringsafrigter en volgens Swart is die tekens klaar daar dat iets aan die gebeur is by Roodepoort.

“Dit is baie vroeg om te sê maar Cash doen reusewerk vir ons. Dit is ‘n nuwe era in rugby en mens moet bybly met die nuwe neigings. Daarom het ons vir Cash aangestel om na kondisionering te kyk en hy doen uitstekende werk. Dit maak my hande meer los om op afrigting te konsentreer,” verduidelik Swart.

Roodepoort neem op 20 Februarie aan die Pirates Sewes deel by Alberton en op 27 Februarie hou die klub sy proewe. Vriendskaplike wedstryde begin op 6 Maart.

Oefeninge vind Maandag-, Dinsdag- en Donderdagaande stiptelik om 18:30 plaas. Sowat 70 senior spelers is tans besig om weekliks daar te oefen, maar nuwe spelers is ook welkom.