2010-2-8
 Albert vd Berg score Bokke Die mees ervare Shark van alle tye, Albert van den Berg, verruil die sand en see van Durban vir Japan waar hy ‘n jaarlange kontrak met die klub Canon onderteken het.
Met 171 eersterangse wedstryde vir die Natallers agter sy naam het die langeraat Hugh Reece-Edwards en Steve Atherton verbygegaan, wat albei 165 wedstryde vir die Sharks gespeel het.
Van den Berg se 171ste was die halfeindstryd van die Curriebeker verlede jaar teen die Cheetahs.
Die 36-jarige slot se loopbaan staan uiteindelik einde se kant toe en met Johann Muller wat ook weggaan, verloor die Sharks skielik twee baie ervare lynstaanmanne, maar in Allistair Hargreaves en Steven Sykes het hulle meer as genoeg talent om by die ou manne oor te vat.
Van den Berg se lang loopbaan het in die Vaaldriehoek begin waar hy 15 wedstryde vir dié voormalige Unie gespeel het waarna hy Kimberley toe is en uiteindelik 55 keer vir die Griekwas uitgedraf het voor hy die Diamantstad vir Durban verruil het.
Hy het sy buiging in Superrugby in 1999 gemaak vir die Cats teen die Highlanders, en uiteindelik 102 Super-wedstryde gespeel en 51 Toetse vir Suid-Afrika.
Met sy 2.01 m sal hy gewis ‘n groot impak maak op Japanse rugby. |